top of page
Search
KGDT

Poort na die hemel

Bobbejaan Spanner gesels oor klein dorpies, garage parties, veilig voel, kindwees, byname en probleme wat jy op die teerpad moet los sodat die lorries dit kan vertrap!


Verlede naweek was ek op ‘n klein dorpie, genaamd Vanwyksdorp, in die hartjie van die Klein Karoo. Die geleentheid was die NG Kerk se 115 jaar feesviering wat elke 5de jaar aangebied word. Die dorpie is gelee waar baie min mense al was en nog minder mense van weet!!


Jy kan die dorpie vanuit verskillende oorde nader, maar van waar jy ookal kom, maak jou reg vir grondpad ry – 30km+. Van Calitzdorp oor die Rooiberg, vanaf Riversdal langs die Langeberge, vanaf Mosselbaai deur Herbertsdale en dan is daar die pad wat ek die beste ken. As jy vanaf Ladismith se kant kom, sal jy 10 km buite Ladismith - op jou linkerkant - ‘n groen bord sien met die naam Vanwyksdorp R562. Nou net daar waar jy afdraai op die grondpad - is vir my die Poort na die Hemel.


My konneksie met die dorp is dat ek omtrent twee jaar daar gewoon het as ‘n tiener seun. My pa het uit die polisie getree en besluit om op Vanwyksdorp grond te koop - waar hy groot geword het en af te tree. Ons as kinders het ‘n sorgelose tyd gehad. Ons kon swem in Grootrivier. Die koppe rondom die dorp uitklim. Oop Karoo vlaktes waar ons kon gaan stap in die veld. In die aande het ons “garage parties” gehou of televisie gekyk (swart en wit) wat battery aangedrewe was. Dit was nie net jou huis wat ‘n veilige hawe was nie, maar die hele dorp was jou veilige hawe. Vir ons kinders was dit hemels.


Wit en bruin mense was goed vir mekaar. Ek het nie eens geweet van iets soos apartheid nie. Ek het daarvan geleer nadat ek skool verlaat het en by die Polisie kollege al die wette rondom dit moes leer. Almal op die dorp het Afrikaans gepraat. Maak nie saak watter bevolkingsgroep jy was nie. (So Mnr Steve Hofmeyer, wat so aangaan oor die taal, wie se taal is dit nou eintlik)


Die boere het hoofsaaklik met appelkose, boerbokke, volstruise, beeste en skape geboer en baie was self onderhoudend aangesien die naaste dorp ongeveer 40 km daarvandaan is. So het die mense ‘n lewe gemaak op Vanwyksdorp sonder teerpaaie of krag. Meeste mense het nie vanne gehad nie, maar byname. Ekself was en is steeds Klein Gert. Dan was daar my pa – Gert Vaaljapie, sy neef Gert Smiley (Mossie), Burt Boekies, Johan Bokram, Kerneels Twaksak, Daantjie Volstruis en so kan ek aangaan.


Die dorp het ‘n pragtige geskiedenis en ‘n kultuur van sy eie. Baie min het verander. Huise lyk nog dieselfde. Jong mans en vrouens het ouer geword. Verder lyk dit of die tyd stil gestaan het daar.


Die fees was ‘n wonderlike geleentheid om weer saam met al die mense wat ek as kind leer ken het – te kuier! Die Kerk te besoek waar ek as kind Sondae die orrel gepomp het vir die nodige wind om die orrel te bespeel. Ek kon weer by my pa en ma se graf besoek afle en ‘n blommetjie opsit.


Ek wil net vir Andre Britz en almal wat hom bygestaan het – geluk wens met ‘n suksesvolle fees!!


Om terug te kom na die Poort na die Hemel. Ek was op Ladismith op skool en in die koshuis. Ek was maar ‘n taamlik gefrustreerde tiener op daardie stadium, want ek het gedink ek is ligjare voor die skool. Natuurlik het die onderwysers nie so gedink nie. Hul enigste oplossing vir die probleem was om my aan te rand. Nodeloos om te se – hulle en ek het niks daarmee bereik nie.


Vrydae het oom Gert Smiley sy dogter, my suster en vir my kom haal by die koshuis. Ek moes agter op die bakkie sit. By die Vanwyksdorp afdraai, op die grond pad op - was vir my die Poort na die Hemel. Ek het ‘n soort vrede in my siel gekry, want ek kon al my probleme op die teerpad los, waar die lorries dit kon vertrap!! En ek oppad na my veilige hawe! Dit was dan ook by daardie afdraai waar ek my eerste sigaret vir die naweek “gelight” het. Salig man – Salig.


Vandag nog as ek die dorp besoek en by die Poort na die Hemel kom – kry ek dieselfde veilige gevoel oor my. Los steeds my probleme vir die lorries op die teerpad. As jy hierdie lees – doen jouself die guns - en gaan besoek Vanwyksdorp. Ek glo jy sal dieselfde vrede ervaar en los sommer jou “troubles” ook op die teerpad!!


Tot next time!!

KGDT

58 views2 comments

Recent Posts

See All

2件のコメント


claudiabrink14
claudiabrink14
2019年10月01日

Hmmm...saalig voorwaar saalig...ek voel of ek nou sommer self daardie rustige... saalige...sorgvrye lewe beleef het met hierdie storie... Wat beter is daar as die Saaligheid van self.... Dankie, dat daar altyd iets in jou stories is wat mens lekker kan laat glimlag...

いいね!

Mariaan du Toit
Mariaan du Toit
2019年10月01日

Ek kan nie dink dat ek in al die jare al ooit na hierdie storie geluister het nie?Dis jammer.Dit klink na wonderlikke herinneringe.Gee my sommer 'n warm gevoel in my binneste.Niks lekkerder as vrede nie.

いいね!
bottom of page